Vir ’n jong half-Amerikaanse egpaar is “kaalvoet-Suid-Afrika” ’n plek waar mense nie so materialisties is nie en kinders met morele waardes grootword. Mnr. Henk Visagie, oorspronklik van Kroonstad, is een van talle Suid-Afrikaners wat ná jare in die buiteland sak en pak met sy gesin na sy geboortegrond teruggekeer het.
Vir sy Amerikaanse vrou, Christina, en hul drie seuns, Andries (7), Jaco (5) en Roux (4), is Suid-Afrika ’n plek van “kaalvoet loop en braaivleis hou”. Die Visagies het 11 jaar in Noord-Carolina gewoon, maar die Amerikaanse ekonomie het van 2006 begin druk en Henk was in 2008 sy werk as direkteur by ’n mediamaatskappy kwyt. Die wêreldwye ekonomiese resessie was die finale strooi wat die gesin laat besluit het om weer in Suid-Afrika te kom nesskop. Visagie is 14 jaar gelede, kort nadat hy sy graad in menslike bewegingskunde en sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat gekry het, Amerika toe om reklame te maak vir die safaritoere wat hy en sy vennoot toe in Suid-Afrika aangebied het. “Daar gekom, het ek begin om buitelug-studies en spanbou-sessies in Tennessee en in Noord-Carolina by kampe aan te bied.” Hy het sy toekomstige vrou, toe nog ’n onderwysstudent, op ’n kamp ontmoet en hulle is in 1999 getroud. Die gesin het in Oktober verlede jaar op Suid-Afrikaanse bodem geland en hulle in Pretoria gevestig. Binne weke het mnr. Visagie werk as ’n bestuurder by Liberty Life gekry, en sy vrou as onderwyseres by ’n Amerikaanse skool in Pretoria. “My gesin se lewenstandaard is hier soveel beter. In Amerika het ons langer ure gewerk en is gesinne nie so heg nie. “Boonop is kinders in Suid-Afrika deel van die gemeenskap. Dis nie soos in Amerika waar hulle opsy geskuif word nie.” Visagie meen ook dat baie Suid-Afrikaners in die buiteland te negatief oor die land is en misdaad en ander kwessies oordryf. Mev. Visagie vertel trots dat haar seuns Afrikaans al goed onder die knie het. Sy geniet die morele en gedissiplineerde leefstyl van Suid-Afrikaners. “Hier is Kersfees nog ’n gelowige dag. Die kinders is veral opgewonde dat hulle skielik soveel familie het, kan braai en enige tyd kan swem.”
Half-Amerikaners skop nes in Pretoria
René-Jean van der Berg – Rapport
Vir ’n jong half-Amerikaanse egpaar is “kaalvoet-Suid-Afrika” ’n plek waar mense nie so materialisties is nie en kinders met morele waardes grootword.
Mnr. Henk Visagie, oorspronklik van Kroonstad, is een van talle Suid-Afrikaners wat ná jare in die buiteland sak en pak met sy gesin na sy geboortegrond teruggekeer het.
Vir sy Amerikaanse vrou, Christina, en hul drie seuns, Andries (7), Jaco (5) en Roux (4), is Suid-Afrika ’n plek van “kaalvoet loop en braaivleis hou”.
Die Visagies het 11 jaar in Noord-Carolina gewoon, maar die Amerikaanse ekonomie het van 2006 begin druk en Henk was in 2008 sy werk as direkteur by ’n mediamaatskappy kwyt.
Die wêreldwye ekonomiese resessie was die finale strooi wat die gesin laat besluit het om weer in Suid-Afrika te kom nesskop.
Visagie is 14 jaar gelede, kort nadat hy sy graad in menslike bewegingskunde en sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat gekry het, Amerika toe om reklame te maak vir die safaritoere wat hy en sy vennoot toe in Suid-Afrika aangebied het.
“Daar gekom, het ek begin om buitelug-studies en spanbou-sessies in Tennessee en in Noord-Carolina by kampe aan te bied.”
Hy het sy toekomstige vrou, toe nog ’n onderwysstudent, op ’n kamp ontmoet en hulle is in 1999 getroud.
Die gesin het in Oktober verlede jaar op Suid-Afrikaanse bodem geland en hulle in Pretoria gevestig. Binne weke het mnr. Visagie werk as ’n bestuurder by Liberty Life gekry, en sy vrou as onderwyseres by ’n Amerikaanse skool in Pretoria.
“My gesin se lewenstandaard is hier soveel beter. In Amerika het ons langer ure gewerk en is gesinne nie so heg nie.
“Boonop is kinders in Suid-Afrika deel van die gemeenskap. Dis nie soos in Amerika waar hulle opsy geskuif word nie.”
Visagie meen ook dat baie Suid-Afrikaners in die buiteland te negatief oor die land is en misdaad en ander kwessies oordryf.
Mev. Visagie vertel trots dat haar seuns Afrikaans al goed onder die knie het. Sy geniet die morele en gedissiplineerde leefstyl van Suid-Afrikaners.
“Hier is Kersfees nog ’n gelowige dag. Die kinders is veral opgewonde dat hulle skielik soveel familie het, kan braai en enige tyd kan swem.”