‘n Paar punte wat voornemende emigrante moet oorweeg
Seleksie.Die beste persoon vir die pos is nie noodwendig die beste persoon vir die werk nie. Die ideale immigrant is aanpasbaar, onbevooroordeeld, dink onafhanklik, het ‘n sin vir humor – ook wat homself aanbetref – en is gewoonlik ‘n ekstrovert. Fisiese faktore moet ook soms in ag geneem word, byvoorbeeld: lang mense leef swaar in Japan omdat motors en akkommodasie vir korter mense ontwerp word.
Dit is nodig om meer te weet omtrent die bestemmingsland se bemarkings-, onderhandelings- en besluitnemingskultuur, asook die bestuurstyl en arbeidswetgewing. In sommige lande word van nuwelinge verwag om inisiatief te toon, in ander word dit as onaanvaarbare arrogansie beskou. Selfs inter-kantoor humor moet versigtig hanteer word.
Dit is nodig om ‘n kennis van die land se leefkultuur te hê.
Kyk na die eggenoot se aanpasbaarheid en hoe die persoon sy/haar dae sal omkry indien net een van die twee huweliksmaats werk kry of mag werk. Vind uit of die bestemmingsland se immigrasiewetgewing toelaat dat beide lewensmaats werk.
Kyk na die kinders se aanpasbaarheid en hulle ouderdomme. Hoe nader aan die einde van ‘n skoolloopbaan, hoe moeiliker om te verskuif of terug te keer. Jonger kinders ondervind weer dikwels emosionele trauma wat byvoorbeeld tot spraakgebrekke mag lei wanneer hulle skielik in ‘n ander taal moet skoolgaan.
Taalgrense. Al is ‘n land se taalmedium Engels, maak die aksent en eie idiome dit soms moeilik om 100% te verstaan, wat as onvriendelikheid, onnoselheid of moedswilligheid gesien kan word.
Ken die bestemming se unieke mediese gevare (soos malaria/geelkoors/legioensiektesones/besoedeling/temperature) en beplan vir mediese noodgevalle direk of kort na aankoms. Onthou dat migrasie ‘n stresvolle proses is wat ook langtermyn medikasie vir depressie of bloeddruk by gesinslede tot gevolg mag hê en dat reisversekering dit nie noodwendig sal dek nie. Ook dat alle fondse nie binne die eerste jaar vir swangerskappe of groot operasies sal betaal nie. Die immigrant het selde enige mediese voordele omdat dit tot die beskikking van permanente inwoners of burgers is. Onthou ook dat indien ‘n mens dalk later na Suid-Afrika sou terugkeer, jy addisionele heffings op jou Suid-Afrikaanse mediese fondspremies sal moet betaal omdat jy ‘n tyd lank nie lid van ‘n Suid-Afrikaanse fonds was nie.
Kry voldoende kwotasies vir hervestigingskoste.
Kyk na die salarisskaal, belasting en lewenskoste in die land van herkoms en vergelyk dit met die bestemmingsland. Gebruik die Big Mac indeks as maatstaf.
Beroepsbeplanning: Watter beroepsmoontlikhede is daar in die bestemmingsland en ook in Suid-Afrika indien die migrasieproses nie sou slaag nie.
Kommunikasie met die tuisfront is essensieel. Begroot vir oproepe, e-pos en vlugte na Suid-Afrika. As sieklike of bejaarde geliefdes agtergelaat word, moet jy weet of dit moontlik sal wees om op kort kennisgewing ‘n vlug huiswaarts te kry vir ‘n siekbed/noodgeval, en wat dit sal kos.
Persoonlike voorkeure – is huisbediendes vir jou noodsaaklik, word jou gunsteling stokperdjie of sportsoort in die bestemmingsland beoefen en indien wel, teen watter koste? Wat van weersomstandighede?
Sal jy nog voldoende aftreevoorsiening hê indien jy emigreer?
Algemene inligting oor emigrasie
‘n Paar punte wat voornemende emigrante moet oorweeg