![]() |
|
KOM HUISTOE-NUUSBRIEF Nommer 48 - Februarie / Maart2008 |
Liewe Lesers Vriendelike groete uit Pretoria. Die kortste maand van die jaar is verby en een van die dae is dit Paasfees. Die tyd vlieg omtrent!
|
|
Soos gebruiklik, begin ons met die noodsaaklike herhalings ... Hierdie is die gratis nuusbrief van die Kom Huistoe-Veldtog van AfriForum vir alle Suid-Afrikaners wat na Suid-Afrika wil terugkeer, reeds terug is of besig is om terug te keer. Om op die nuusbrief in of uit te teken, kommentaar te lewer of 'n bydrae te stuur, kontak ons by alana@afriforum.co.za. Merk die e-pos “KOM HUISTOE INTEKEN”, “KOM HUISTOE UITTEKEN” of met die onderwerp van julle keuse. Die nuusbrief verskyn maandeliks in beide Afrikaans en Engels en nuwe intekenaars is altyd welkom. Onthou ook dat ons die medewerkers en adverteerders wel deeglik keur, maar geen waarborge vir hulle dienste kan voorsien nie en nie vir hulle aksies verantwoordelik gehou kan word nie. Lewer asseblief ook kommentaar op hulle dienslewering. |
|
JACOB ZUMA OOR EMIGRASIE Op 6 Maart 2008 het die ANC president, Jacob Zuma, ‘n dinee van die vakbond Solidariteit in Centurion bygewoon. Solidariteit het reguit vrae aan hom gevra, onder meer wat hy sou sê aan mense wat emigrasie oorweeg. Die antwoord mag Suid-Afrikaners in die buiteland interesseer, dus plaas ons dit hier. Die dagblad Beeld het soos volg op 7 Maart 2008 oor sy antwoord in ‘n voorbladberig getiteld Bly in SA, sê Zuma aan wittes berig: Moenie die land verlaat nie, bly hier sodat ons julle probleme kan deurtrap en oplos. Dít was gisteraand mnr. Jacob Zuma, ANC-leier, se boodskap op ’n geselligheid van die vakbond Solidariteit in Centurion waar veral kwessies soos die impak van misdaad en regstellende aksie geopper is. “Beleid is nie soos die Tien Gebooie nie. Dit kan verander as dit diskrimineer,” het Zuma oor regstellende aksie gesê. Dit is volgens hom duidelik “dat ons sal moet gaan sit en praat” oor die opvattings dat regstellende aksie ’n poging is om wit mense te verwyder of dat dit ’n aanslag is op wit mans se regte. Hy het gesê dié beleid is noodsaaklik om die ongeregtighede van die verlede reg te stel, maar dat dit ook problematies is as jong wit Suid-Afrikaners voel hulle word hierdeur uit die werkmag gesluit. “Ons moet met mekaar oor hierdie kwessie praat. Kom ons maak tyd om dit saam deur te trap en te sien hoe ons in landsbelang gemeenskaplike grond kan vind. Ons wil ’n gemeenskap hê waarin geen mens ten koste van ’n ander bevoorreg word nie, waarin geen mens onderdruk word tot voordeel van ’n ander nie,” het Zuma gesê. Die huidige regering verseg al jare lank om met Solidariteit of enige ander groep oor regstellende aksie se toepassing te praat. Zuma het geantwoord op mnr. Flip Buys, hoofsekretaris van Solidariteit, se vroeëre toespraak waarin hy sy kommer oor regstellende aksie uitgestippel het. “Julle benadering is verfrissend, reguit en eerlik – dit dra die merk van werkers, waarmee ek tuis voel,” het Zuma gesê. Zuma het ook Suid-Afrikaners gevra om nie die land te verlaat weens vrees vir misdaad nie. “Bly hier. Dis ons land, óns moet dit regmaak ... .Ons het julle hande en kundigheid nodig om te help in die stryd teen misdaad.” Volgens Zuma moet “iets drasties en buitengewoon” gedoen word om misdaad hok te slaan. Hy het voorgestel dat wetgewing “minder gebruikersvriendelik” vir misdadigers moet wees en dat die polisie se hand versterk moet word. “Omdat ons nie die doodstraf het nie, het ons strenger wetgewing nodig om misdaad te probeer hanteer.” Oor die herinstelling van die doodstraf het hy gesê dit is nie ANC-beleid nie, maar dié party kan nie demokratiese debat hieroor onderdruk nie. As genoeg mense daarvoor vra, kan ’n referendum hieroor nodig wees. Hy het ook beklemtoon dat die konstitusionele hof die doodstraf afgeskaf het, en nie die ANC nie. Oor wit Afrikaanssprekendes se plek in Suid-Afrika en Afrika, het Zuma gesê sommige noem hulle “die wit stam van Afrika”. “Afrikaners het ’n spesiale plek in die land. Hulle het die land gemaak wat dit is.”
Die volledige toesprake van Jacob Zuma en Flip Buys, hoofsekretaris van Solidariteit, is beskikbaar by www.solidariteit.co.za.
BELASTINGADVIES VIR SUID-AFRIKANERS IN DIE BUITELAND Fanus Jonck het weer raad oor die tameletjie vir Suid-Afrikaners in die buiteland: Daar word deesdae dikwels gevra waarom mense wat ʼn eiendom wil verkoop, eers hulle belastingadviseur kontak voordat hulle ʼn eiendomsagent skakel. Die rede is dat hulle wil weet hoeveel hulle kapitaalwinsbelasting gaan bedra en dus ook wat hulle netto profyt op die transaksie sal wees, voor hulle voortgaan met die verkoop van hulle Suid-Afrikaanse eiendom. Dit is ook noodsaaklik dat hulle eers met hulle belastingadviseur moet praat voor hulle ʼn eiendom in Suid-Afrika aankoop, omdat die adviseur aan hulle kan verduidelik wat die belasting- en kapitaalwinsbelastingimplikasies sal wees daarvan as verskillende entiteite, byvoorbeeld ʼn natuurlike persoon, maatskappy, beslote korporasie of trust die eiendom sou koop. My advies aan Suid-Afrikaanse “expats” of buitelandse burgers wat eiendom in Suid-Afrika wil aanskaf, is om dit in meer as een naam te registreer. Die rede is dat diegene dikwels nie enige ander belasbare inkomste in Suid-Afrika verdien nie, en dat so ʼn persoon se eerste R200 000 (R400 000 vir ʼn egpaar) kapitaalwins dus nie belasbaar sal wees nie. Indien twee “expats” of buitelanders saam ʼn eiendom koop, sal hulle dus hulle belastingvrystelling verdubbel. Dit is omdat die eerste R16 000 (R32 000 vir ʼn egpaar) kapitaalwins jaarliks vrygestel word en slegs 25% van die balans volgens die inkomstebelastingtabelle belas word. In Suid-Afrika word individue belas op inkomste bo die eerste R46 000 per individu, wat van belasting vrygestel is. Laat my toe om aan die hand van ʼn voorbeeld te verduidelik. As ʼn egpaar ʼn eiendom verkoop en hulle wins is R500 000, sal elk R2 250 belasting betaal. As hulle egter die eiendom oorspronklik net in die man se naam geregistreer het, sou sy belasting R13 500 bedra het. Vir Suid-Afrikaanse burgers is die beste opsie gewoonlik om hulle eerste eiendom in hulle eie naam te koop, as gevolg van die R1,5-miljoen primêre woning kapitaalwinsbelasting-vrystelling. Addisionele eiendom behoort in ʼn trust gekoop te word. Hoewel meer oordragkoste in die geval van ʼn aankoop deur ʼn trust sal geld, hou ʼn trust meer voordele in as die aankoop deur ʼn natuurlike persoon. Daar is byvoorbeeld beskerming teen bankrotskap vir trusts in sekere gevalle. Hoewel hierdie algemene beginsels is, moet elke koper of verkoper sy belastingadviseur kontak vir spesifieke advies oor elke transaksie, omdat nie twee transaksies dieselfde is nie. BTW mag byvoorbeeld op een soort verkoop geld, oordragkoste vir ʼn ander, soms kan dit ook teruggeëis word, maar dit hang van die spesifieke omstandighede af. As die agent nie al die inligting het en vermeld nie, mag die voordele verbeur word. Onthou asseblief ook dat indien jy nie in Suid-Afrika woonagtig is nie en vir meer as R2-miljoen verkoop, die prokureur 5% van die prys aan SARS moet oorbetaal as weerhoudingsbelasting (withholding tax) as provisionele kapitaalwinsbelasting. Soms kan ʼn belastingadviseur met SARS ooreenkom dat ʼn laer persentasie of selfs niks in hierdie verband betaal word nie, maar min prokureurs is bewus van die opsie. Advies wat van ʼn belastingadvisieur verkry word, sal in die meeste gevalle die koper se risiko verminder en sy/haar/hulle profyt vermeerder. Kontak gerus vir Fanus Jonck (tax@jonck.net) met julle belastingnavrae.
WET OP HUURSOLDAAT-AKTIWITEITE Ons het in die verlede berig dat die Parlement wetgewing oorweeg om huursoldaat-aktiwiteite van Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland te reguleer. Hierdie wetgewing is nou aanvaar en het ʼn wye impak. Dit geld nie net vir soldate nie, maar vir almal in die sekuriteitsveld – ook diegene wat nie wapens dra nie. Mense wat dus enige tipe veiligheidsberoep in die buiteland beoefen, moet kennis neem daarvan. Die wet is op 16 November 2007 in Staatskoerant 509(30477) gepubliseer. Die volle naam daarvan is The Prohibition of Mercenary Activities and Regulation of Certain Activities in Country of Armed Conflict Act, 2006. Mense wat graag ʼn kopie daarvan wil bekom, kan ons kontak by alana@afriforum.co.za. VERSOEK VAN ‘N LESER Beryl Rathbone wil steeds graag met mense bo 60 wat na ʼn verblyf in die buiteland na Suid-Afrika wil terugkeer of teruggekeer het, korrespondeer. Laat ons weet as julle met haar wil gesels oor julle ervarings, asseblief. Gebruik ook ons adres alana@afriforum.co.za. Beryl is Engels. POSTE BESKIKBAAR Die volgende kundiges word dringend benodig:
KAN VLUGKAARTJIES VAN BELASTING AFGETREK WORD? Handige advies hieroor kom van die belastingadviseur, Fanus Jonck: Al hoe meer Suid-Afrikaners woon in die buiteland, maar besit eiendom in Suid-Afrika. Van hulle koop eiendom as belegging, as vakansiebasis in Suid-Afrika, of as toekomstige bron van inkomste na aftrede. Talle Suid-Afrikaanse “expats” het my al gevra of hulle kan waag om hulle reiskoste na Suid-Afrika van hulle inkomstebelasting af te trek. Die antwoord is “Ja”, mits die reiskoste aangegaan is in die produksie van inkomste. As jy byvoorbeeld na Suid-Afrika moes vlieg om oor herstelwerk aan jou eiendom te kom toesig hou, kan jy die koste aftrek. Gewoonlik sal jy so ʼn reis met ʼn vakansie in Suid-Afrika kombineer. SARS mag in daardie geval bepaal watter persentasie van die reiskoste vir inkomsteproduksie gegeld het, byvoorbeeld 50% van die totale koste, en watter deel vir jou persoonlike vakansie. As jy na Suid-Afrika sou vlieg om na ʼn paar eiendomme te kom kyk met die oog daarop om te koop, is jou uitgawe van ʼn kapitale aard, met ander woorde dit sal jou kapitaalwinsbelastingplig met die verkoop van die eiendom verminder. Dieselfde sal geld indien jy ʼn eiendom het, vorige huurders dit ontruim en jy dit moet gaan herstel voor dit weer verhuur kan word. Ook as jy pas ʼn eiendom gekoop het en dit eers restoureer voor jy dit begin uithuur. Die Ontvanger sal die herstelwerk as van ʼn kapitale aard beskou, omdat jy die uitgawe aangegaan het om ʼn inkomste-skeppende bate te skep. Indien jy dus na Suid-Afrika kom om na eiendomme te kyk met die oog op ʼn aankoop, is dit ʼn goeie idee om die brosjures en name van die agente saam met wie jy na eiendom gaan kyk het, te hou. Hou ook kwotasies of berekeninge van huur wat moontlik in die area gegenereer kan word, herstelwerk, versekeringskoste en soortgelyke uitgawes. Indien die Ontvanger ooit navraag doen, kan die dokumentasie handig te pas kom om te bewys dat jy nie net kom vakansie hou het nie. Hierdie kapitale uitgawes kan afgetrek word wanneer jy die kapitaalwins bereken met die verkoop van jou eiendom. Reiskoste na Suid-Afrika met die doel om die eiendom te verkoop kan ook so afgetrek word en jou kapitaalwinsverpligting verminder. Onthou dat jy in Suid-Afrika as voorlopige belastingbetaler moet registreer indien jou Suid-Afrikaanse huurinkomste meer as R12 000 bedra. Kontak Fanus gerus met enige vrae hieroor - tax@jonck.net of 0027-21-9134164. WERK! Fanie Coetzee wat een van die grootste konstruksiemaatskappye in Suider-Afrika verteenwoordig, is steeds op soek na senior mense in die konstruksie en ingenieursbedrywe. Hy sê verder: “Enigiemand wat werk soek, kan my kontak. Ek ken ʼn paar mense in die werwingsomgewing en kan altyd probeer om ander mense te help om werk te kry. Dit is tog waaroor alles gaan. Dus, indien daar ander mense buite die konstruksie-omgewing is wat ook werk soek, kan hulle my kontak. Ek sal hulle CV's aan ander werwingsmaatskappye gee en probeer help.” Fanie se e-posadres is fanie@oneworldhc.com. OORWEEG U `N BEROEP AS `N FINANSIëLE ADVISEUR? Ou Mutual Persoonlike Finansiële Advies is op soek na persone om opgelei te word as finansiële adviseurs. Die suksesvolle kandidaat is:
Vergoeding bedra R6 000 + kommissie per maand. Indien u belangstel, kan u u CV soos volg aan Jannie Heymans besorg: HUIS BESKIKBAAR Michelé skryf: “Are you looking to return home or sending your staff member out on contract to the Roodepoort / Honeydew area in South Africa? For a long or short-term let, we have a secure detached corner duplex, 3 decent-sized bedroom townhouse, with 2 full bathrooms, one en-suite to main bedroom with balcony. Lounge with open-plan dining room, lovely fitted kitchen, private garden including garden service, with additional side entrance to back, double garage with entry into house and carport space for an addition 2 cars, alarm system, electric fencing around complex, remote control access at entrance to complex. Only 3 years old. Rental negotiable to the right tenant. Contact: John (c): +27 (082) 4352381 in SA or Michelé (w) +944 (01452) 886227 or (h) +944 (01242) 232433 in UK.” VERLANGHOEKIE Hierdie maand laat ons julle harte met ‘n punt na Kaapstad laat trek ...
Elwin Wouterse het hierdie foto van Leeukop gestuur.
Ronell Kruger het Kirstenbosch onlangs besoek. Stuur gerus julle mooiste Suid-Afrikaanse verlangfoto’s aan ons asseblief! OORDENKING Hierdie maand se oordenking kom uit die Bybelse dagboek Die Vrolike God van Barend Vos. Dit word uitgegee deur Lapa Uitgewers en kan bestel word van www.lapa.co.za. Lees: Matteus 21:1-11 – Die intog in Jerusalem Nogal ʼn vreemde prentjie, sou ek dink: die groot man op ʼn donkievul. Ongemaklik groot op die smal rug, sy hande wat aan die nek vasklou, sy voete wat aan die grond raak. En dan die skare wat hierdie ruiter op sy onwaarskynlike rydier ontvang asof hy ʼn koning is. Maar hy is ʼn koning! Of ten minste dan ʼn prins, die seun van die grootste koning van almal – Dawid. Kyk dan hoe die skare die rooi tapyt vir hom uitrol, hoe hulle hul klere uitpluk, takkies van bome stroop en so vir almal demonstreer: hier kom die nuwe Dawid! Die stadsmense het gevra: “Wie is hierdie man?” Die juigende skare het geantwoord: “Dit is die profeet ...!” Die seun van Dawid, die profeet. Het hulle regtig geweet? Het enigiemand geweet? Wie is hierdie man? Wat kom maak hy in Jerusalem? Hoekom die eienaardige binnekoms? En hoekom verwys die Bybelvertalers na hom met hoofletters? Matteus sê Hy is die vervulling van Israel se eeue-oue verwagting: dat daar ʼn koning uit die nageslag van Dawid sou kom. Maar, sê hierdie evangelis, hy is ook veel meer as dit. Hy is ʼn hoofletter-Koning, die Vervulling van Sy mense se diepste wense. Die Seun van Dawid, ja, maar bowenal, die Seun van God. Hy ry juis op ʼn donkie om die profete se uitsprake te bevestig. Hy kom Jerusalem toe om Sy Koningskap te proklameer. Die skares sal Hom mos herken ... Helaas. Ek is nie so seker dat hulle regtig geweet het Wie Hy was nie. Trouens, ek wonder of hulle hulle nie maar gedra het soos skares deur alle eeue nie. Opgeneem in die emosie van die oomblik, opgesweep deur die groeiende lawaai, ʼn hele stad wat in beroering kom. Ek wonder selfs of dit nie maar dieselfde skare is wat aanstons sou skreeu: “Kruisig Hom!” nie. Skares maak maar so. Maar die lawaai doof op geen manier die dringende vraag teen die einde van die vertelling uit nie. Skares, en enkelinge van alle tye, word steeds hiermee gekonfronteer: “ Wie is hierdie man?” Of, beter gestel: Wie is hierdie man vir julle? Vir jou? Gebed: “Here, U is mý Koning. Of ek dit saam met ʼn skare uitroep, of dit saggies fluister. Hóór my asseblief!”
|
|
Paasfeesgroete en seënwense tot volgende keer! |