Kom Huistoe

KOM HUISTOE-NUUSBRIEF

Nommer 49 - Maart / April 2008

Liewe Lesers

Beste wense uit Pretoria waar dit vroeg herfs word!

Soos gebruiklik, begin ons met die noodsaaklike herhalings ...  Hierdie is die gratis nuusbrief van die Kom Huistoe-Veldtog van AfriForum vir alle Suid-Afrikaners wat na Suid-Afrika wil terugkeer, reeds terug is of besig is om terug te keer.  Om op die nuusbrief in of uit te teken, kommentaar te lewer of 'n bydrae te stuur, kontak ons by alana@afriforum.co.za.  Merk die e-pos “KOM HUISTOE INTEKEN”, “KOM HUISTOE UITTEKEN” of met die onderwerp van julle keuse.  Die nuusbrief verskyn maandeliks in beide Afrikaans en Engels en nuwe intekenaars is altyd welkom.  Onthou ook dat ons die medewerkers en adverteerders wel deeglik keur, maar geen waarborge vir hulle dienste kan voorsien nie en nie vir hulle aksies verantwoordelik gehou kan word nie.  Lewer asseblief ook kommentaar op hulle dienslewering.

 

SOLIDARITEIT-KANTOOR IN BELGIË

Solidariteit het pas ʼn kantoor in Brussel geopen met Ingrid Scholtz aan die stuur.  Die doel van die kantoor is onder meer om skakeling met verwante organisasies in Europa te bewerkstellig en ook om inligting oor opleiding met instansies aldaar uit te ruil.  Mense wat graag met Ingrid hieroor in aanraking wil kom, kan haar kontak by ingrid.scholtz@yahoo.co.uk

 

HULP BENODIG DEUR ARRIVE ALIVE-WEBWERF

Johan Jonck stuur gereeld aan ons handige inligting oor die omskakeling van Suid-Afrikaanse bestuurderslisensies en ander padveiligheidswenke.  Vandag vra hy hulp:

I would like to request your expertise and advice in making the best information on road safety available for cell phone users.  We are in a month trial period with the domain www.arrivealive.mobi which can be accessed from your cellular phone.  I believe this can add value to road users with important information on emergency numbers and accident scene safety etc.  Please send your suggestions on content you believe should be made available to benefit road safety or any other suggestions you might like to offer.  During the next month we will try to improve this new development through the input from experts across the industry!  Kindest regards - Johan Jonck (www.arrivealive.co.za)

 

WERK!

Fanie Coetzee wat een van die grootste konstruksiemaatskappye in Suider-Afrika verteenwoordig, is steeds op soek na senior mense in die konstruksie- en ingenieursbedrywe.  Hy sê verder:  “Enigiemand wat werk soek, kan my kontak.  Ek ken ʼn paar mense in die werwingsomgewing en kan altyd probeer om ander mense te help om werk te kry.  Dit is tog waaroor alles gaan.  Dus, indien daar ander mense buite die konstruksie-omgewing is wat ook werk soek, kan hulle my kontak.  Ek sal hulle CV's aan ander werwingsmaatskappye gee en probeer help.”  Fanie se e-posadres is fanie@oneworldhc.com.

INLIGTING OOR INKOMSTEBELASTINGREGISTRASIE IN SUID-AFRIKA

Registreer by die “South African Revenue Service” (SARS)

Vertel SARS dat jy terug in Suid-Afrika is:

  • Verklaar al jou buitelandse bates en belange – dit is in jou eie belang;
  • Jy sal die waarde van jou buitelandse beleggings op die datum van jou terugkeer na Suid-Afrika moet kan bewys.
  • Jy mag moontlik gevra word om te bewys dat die geld oorsee verdien is – hou dus jou buitelandse salarisstrokies.

As jy buitelandse beleggings het, sal jy moontlik as voorlopige belastingbetaler moet registreer.  Onthou dat jy deesdae in Suid-Afrika op jou wêreldwye inkomste belas word.

  • As jy kwalifiseer om as voorlopige belastingbetaler te registreer, moet jy binne dertig dae van kwalifikasie af registreer.
  • Betaal eerder ʼn kundige om jou belastingopgawe in te dien.  Betaal eerder meer vir die beste – jy kan geld spaar deur iemand te raadpleeg wat met die stelsel vertroud is.

As jy vir ʼn lang tydperk uit Suid-Afrika weg was en nie meer as Suid-Afrikaanse belastingresident kwalifiseer nie, hou die volgende in gedagte:

  • Wanneer ʼn nie-Suid-Afrikaanse belastingresident wel weer vir belastingdoeleindes ʼn resident word, word sy wêreldwye bates geag om sy besit te word op die dag wat hy ʼn resident van Suid-Afrika word.  ʼn Waardasie sal dus op hierdie datum van sy totale aantal bates regdeur die wêreld gemaak moet word.
  • Wanneer ʼn Suid-Afrikaanse belastingresident ophou om ʼn belastingresident in Suid-Afrika te wees, word al sy bates geag verkoop te wees op die dag voordat hy opgehou het om ʼn belastingresident te wees.  ʼn “CGT exit charge” is dan betaalbaar.  Dit word bereken as die verskil tussen die basiskoste van elke bate op die dag wat hy ʼn belastingresident geword het en die markwaarde van die bates op die dag wat hy opgehou het om ʼn belastingresident te wees.
  • Aangesien die “exit charge” bereken word met verwysing na die vermeende wegdoening met die individu se wêreldwye bates, selfs al is die individu nie van plan om die bates te verkoop nie, moet hy die belasting op die moontlike verkoop daarvan betaal, wat nogal ʼn aardige las tot gevolg kan hê, aangesien die individu verplig sal wees om die belasting uit beskikbare kontant, eerder as uit die opbrengs van ʼn verkoop te betaal.

Die beste raad is dus om ʼn waardasie van jou buitelandse eiendom en aandele te kry op die dag wat jy Suid-Afrika permanent binnekom.

Sorteer jou buitelandse belastingsake uit

  • Daar is baie maatskappye wat jou hiermee sal help – die koste van so ʼn diens is die moeite werd!
  • Om in Suid-Afrika ʼn aanslag vir ʼn groot belastingrekening in buitelandse valuta te kry, kan ʼn groot ramp wees.
  • As jy oorweeg om ʼn land te verlaat sonder om te betaal, hou genoeg kapitaal in ʼn bankrekening vir 5 jaar, sodat jy sal kan betaal as jy so ʼn aanslag sou kry.
  • As jy in ʼn ander land ʼn salaris verdien het, sal jy besmoontlik belasting terugkry indien jy nie ʼn volle belastingjaar daar werksaam was nie.

Nog inligting is beskikbaar van die belastingkonsultant, Fanus Jonck, by tax@jonck.net.

POSTE BESKIKBAAR

Die volgende poste is beskikbaar by Enable Employment Services (Pty) Ltd:

  • Kliënteskakelbeampte; ontwikkel handleidings vir ʼn maatskappy vir interne gebruik, en ook vir internasionale kliënte.  Handhaaf die maatskappy se webwerf, en dateer dit gereeld op.  Lees joernale en maak uittreksels vir bestuur van alle relevante inligting.  R8 000 tot R10 000 per maand. Krugersdorp;
  • Junior PLC programmeerder, 1 jaar ondervinding.  Werk met robotte.  R10 000 per maand;
  • Senior PLC programmeerder; 3 jaar + ondervinding.  Siemens C7 & Allan Bradley programmeerder.  R20 000 per maand.  Werk met robotte.  Pretoria;
  • 4 Verkoopsmanne van kopieermasjiene en kantoortoerusting @ R5 000 per maand;
  • ʼn Passer in Vereeniging @ R6 000 per maand;
  • ʼn Boekhouer in Vereeniging @ R6 000 per maand;
  • Verkoopsmanne van verwerkte en rou vleisprodukte in Pretoria en Johannesburg @ R20 000 per maand (kommissie);
  • Dakteëlaars in Meyerton @ R2 500 per maand;
  • ʼn Kode 14-drywer @ R6 000 per maand;
  • ʼn IT Tegnikus @ R3 000 per maand;
  • Verkoopsmanne van sekuriteitshekke en heinings @ R10 000 per maand (basies plus kommissie);
  • ʼn Persoonlike lyfwag in Pretoria @ R15 000 plus per maand.

Navrae kan gaan aan Pieter Oosthuizen, 0027-11-660-2751 of pieter@enable.co.za.

 

WEBWERF VIR MILITARISTE EN MENSE MET ‘N BELANGSTELLING IN DIE WEERMAG

ʼn Leser stuur die volgende inligting aan:

Are you a former or existing soldier that was part of the South African military at some point?  Family in the military?  Interest in that unit your granddad was in?  Come and join the biggest SA military site from the 1st of April 2008 to share your stories and look for old mates.  Chat about all those stories from days gone by and share with guys and girls with similar experiences.  Mostly South African, but everyone with an interest in the SA military will be welcome.  Chat about history, from the Anglo Boer War to modern international wars, weapons, or just about your everyday news.  Meet people, find friends, or guys from different eras that served in your unit.  Come and join, FOR FREE, at http://www.sa-military.com.

HULP VIR MENSE WAT OORSEE WOON, MAAR DIENSTE IN SA BENODIG

Is jy in die buiteland en benodig iemand in Suid-Afrika om namens jou blomme te koop, ʼn administratiewe takie te verrig of eiendom te soek?  Dan is hierdie webwerf net vir jou:  www.SouthAfrica-AtYourService.com.  Gaan loer sommer vandag nog wat dit aan jou kan bied.

NUUS VIR VERPLEEGSTERS WAT NA SUID-AFRIKA TERUGKEER

Verpleegsters kan nou ook by Solidariteit aansluit!  Die vakbond Solidariteit het die afgelope tyd baie navrae ontvang van verpleegsters wat graag by die vakbond wil aansluit.  Dit volg veral op die bewerings dat HOSPERSA moontlik gederegistreer kan word.  Die probleem vir verpleegsters om by Solidariteit aan te sluit, was nog altyd die indemniteit (versekering) wat verpleegsters en ook ander persone in mediese beroepe moet hê.  Hierdie versekering beskerm verpleegsters teen eise weens professionele nalatigheid.  Solidariteit het nou daarin geslaag om die probleem op te los deur selfs beter dekking as wat die bestaande vakbonde tans bied, aan lede in die bedryf teen so min as R150-00 per jaar beskikbaar te stel.  Hierdie dekking verleen die lid dekking vir verhore by SANC (South African Nursing Council) tot ʼn bedrag van R40 000-00 per saak en R5-miljoen vir eise wat teen hulle ingestel mag word.  Vir enige verdere navrae kan Fanie Vosloo by fanie@solidariteit.co.za gekontak word.

OORWEEG U `N BEROEP AS `N FINANSIËLE ADVISEUR?

Ou Mutual Persoonlike Finansiële Advies is op soek na persone om opgelei te word as finansiële adviseurs.  Die suksesvolle kandidaat is:

  • ʼn Hoogs energieke persoon;
  • 23 jaar en ouer;
  • Besit Graad 12 of ʼn hoër kwalifikasie;
  • Beskik oor eie vervoer en woon in Pretoria omgewing;
  • Is rekenaarvaardig en kan onafhanklik werk.

Vergoeding bedra R6 000 + kommissie per maand.

Indien u belangstel, kan u u CV soos volg aan Jannie Heymans besorg:
Per hand: Jannie Heymans, Ou Mutual Hatfieldtak, Pencardia 1 Tweede vloer, Pretoriusstraat 509, Arcadia.
Per pos: JG Heymans, Ou Mutual Hatfieldtak, Posbus 5, Pretoria, 0001.
Per faks: Vir aandag : Jannie Heymans, 0866317344.
Per epos: jheymans@oldmutual.com.

VERHUISINGSDIENSTE

Agente wat julle om kwotasies vir die verhuisingsproses kan nader, is:

Alle korrespondensie moet in Engels geskied, asseblief.

VERLANGHOEKIE

Hierdie maand ʼn bietjie kosmos van Ronell Kruger uit Dullstroom se rigting af:

 

VREEMDE HORISONNE

In aansluiting by ons SA-verlanghoekie, sal dit lekker wees om julle vertellinge en foto’s van die besondere plekke waar julle op aarde is, te ontvang.  Komaan mense – trek die rekenaar nader en vertel ons wat in julle deel van die wêreld gebeur asseblief?

Erika de Wet is ʼn ywerige korrespondent en puik fotograaf.  Hulle was in Maart 2008 by die Niagara-waterval – ʼn heel ander prentjie as in die somer, of hoe?  Dankie Erika!

OORDENKING

Het jy al ingeteken op “Vers ʼn Dag”?  Dit is maklik – gaan na www.bybel.co.za, kyk aan die regterkant van die webblad en kliek om in te teken.

Hier is ʼn uittreksel uit een van die daaglikse boodskappe:

Lees Hosea 4: 1-10

Ons ore stel ons in staat om boodskappe en informasie te ontvang.  Billy Graham het gesê ons het twee ore, maar net een mond omdat God weet dit is baie belangriker om te luister as om te praat.  Dink ’n slag goed na oor die woorde wat jy hoor.  Daar is woorde uit die sakewêreld wat jou as ’n potensiële kliënt beskou.  Hulle verwag om geld uit jou te maak.  Hulle vertel dikwels vir jou van ’n behoefte wat jy nooit eens besef jy het nie, maar dit doen hulle net om jou te oortuig om hulle produk te koop.  Daar is die woorde van politieke propaganda wat kom van dié wat hulle agenda wil bevorder om meer mag te bekom.  Daar is die woorde van die wêreld van vermaak wat vrolikheid en vreugde in jou lewe wil bring.  Daar is ook die woorde van wysheid wat jou wil help om die wêreld en jouself beter te verstaan.

Die belangrikste woorde wat jy ooit kan hoor, is egter die woorde van God wat in die Bybel opgeteken is.  Soms gee God jou ’n opdrag, ander kere inspireer of bemoedig Hy jou.  God sal jou vertroos en jou lei om die regte besluite in jou lewe te neem.  Hy sal jou waarsku, raad gee of jou leer.  Hy gee aan jou Sy beloftes.  Hy genees en bemagtig jou.

Daar was sowat 60 of 70-jaar gelede ’n Christelike beweging wat bekend gestaan het as die “Oxford-groep”.  Hulle leuse was: “Wanneer die mens luister, praat God.”  Jy kan dit verpersoonlik en sê: “Wanneer ek luister, praat God.”  Luister jy?

Gebed:  “Here my God, gee dat ek u stem as die belangrikste sal herken en na U sal luister.”

 

Hartlike groete tot volgende keer!

Alana & kollegas
AfriForum

[www.komhuistoe.co.za / alana@afriforum.co.za]