Kom Huistoe Nuusbrief

KOM HUISTOE-NUUSBRIEF

Nommer 54 - September 2008

Liewe Lesers
Welkom by die 54ste weergawe van die Kom Huistoe-Nuusbrief!

IMFO

Onthou, IMFO, AfriForum se Engelse brosjure met nuus oor lewenskoste in Suid-Afrika, is in Augustus 2008 deur Annatjie opdateer.  Vir ʼn gratis kopie in MS Word, stuur ʼn epos met die onderwerp IMFO aan ons by alana@afriforum.co.za.

NAVRAAG OOR KOSTE VAN PAKKIES

Ons het onlangs ʼn navraag ontvang oor hoekom familie en vriende in SA soveel moet betaal vir geskenke van mense uit die buiteland.  Ons gee ʼn opsomming van ons antwoord, wat u dalk ook mag help.  (Doeane en Aksyns hersien die toegelate waardes van tyd tot tyd – stuur gerus navrae direk aan hulle deur www.sars.gov.za).

Wanneer kry ʼn mens jou geskenk gratis?  Elke individu is geregtig daarop om twee bona fide, ongevraagde geskenke waarvan die waarde nie R500-00 oorskry nie, te ontvang.  Dit sluit goedere uit wat passasiers wat die land inkom, in handbagasie inbring, asook alkohol en tabakprodukte.  Onthou om pakkies duidelik “geskenk” of “gift” te merk.

Dan is daar natuurlik nog die probleem met pakkies wat “wegraak”.  ʼn Goeie alternatief is om geskenke in Suid-Afrika deur die Internet te bestel – byvoorbeeld deur www.kalahari.net – dalk minder persoonlik, maar wel veiliger en goedkoper vir almal.

GEBRUIKTE VOERTUIGUITVOERE NA SUID AFRIKA

Johan Kriek vertel meer van ʼn diens wat hy aanbied:

Party mense sê dit is onmoontlik om ʼn gebruikte motor na Suid-Afrika uit te voer (in te voer as jy in SA woon).  Ander sal sê dit is moeilik.  Ander sal selfs sê dit is nie die moeite werd nie.  Wel, laat Springbok Imports jou help besluit.  Sien, ons is seker die enigste besigheid wat spesialiseer in die verkryging van invoerpermitte vir voertuie wat uitgevoer word na Suid-Afrika, en ons sal verder ook vir jou eerlike raad kan gee of jou spesifieke voertuig wel die moeite werd is uit ʼn finansiële oogpunt in terme van sy waarde in Suid-Afrika!  Ek was self ʼn SAFFA vir twee-en-ʼn-half jaar in Brittanje.  Toe ek terugkeer Suid-Afrika toe en my twee Suzuki Samurai 4X4 jeeps wou saambring, het ek agtergekom dat dit amper ʼn “missie onmoontlik” is.  (Dit wás amper nadat ʼn sekere staatsinstelling in Pretoria my invoer aansoek verloor het). Na baie bede en stres was my geliefde twee Suzuki’s eindelik in Durban se hawe.  Na die oefening het ek heelwat Suid Afrikaners gehelp met hulle invoere en so het Springbok Imports tot stand gekom.

So terloops, die een Suzuki van my is vir R58 000 verkoop!  (Die outjie het my in totaal R30 000 gekos vir aankoop, verskeping en belastings).  Die ander Suzuki sal ek egter nooit verkoop nie weens sentimentele waarde, en waar gaan ek nog so ʼn lekker, betroubare 4x4 speelding vir R30 000 in Suid Afrika optel?

As jy ʼn ou is wat jou geliefde Mercedes Gelandewagen waarmee jy die Outback platgetoer het graag in die Kalahari wil loslaat na jou terugkoms na Suid-Afrika, vra ons gerus vir hulp. Ook as jy die meisie is wat jou VW Golf Cabriolet uit London se verkeersknope na Pretoria se verkeersknope wil verskuif, moet jy my asseblief kontak!  Besoek gerus ons webwerf www.carshipping.co.za vir meer inligting en kontakbesonderhede.  Sien daarna uit om van julle te hoor!

Onthou:  Geen linkerhandstuur voertuie mag meer na Suid-Afrika ingevoer word nie.

AFRIKAANS KRY HUPSTOOT IN KUBERRUIMTE

Die eerste volledige en uitsluitlik Afrikaanse generiese webwerf oor wyn het pas die kuberruimte ingevaar.  Hierdie unieke wynwebwerf, wat alles oor wyn in die plaaslike wynbedryf in gemaklike en ligte Afrikaans voorsit, bied aan kuber-wynliefhebbers en ander besoekers aan hierdie medium die geleentheid om ʼn wye verskeidenheid inligting oor wyn in Afrikaans te bekom.  Die wynwebwerf, www.wynsa.co.za, is ontwikkel met die doel om wynliefhebbers en nuuskieriges op ʼn gemaklike wyse en in suiwer Afrikaans aan die wynbedryf in sy vele fasette bekend te stel.

“Ons het gevoel dat daar ʼn behoefte onder Afrikaanse wynliefhebbers bestaan om meer oor wyn in hul moedertaal te kan lees en om hierdie bedryf só verder te kan ontdek,” sê Danie Keet, eienaar en inhoudsbesturder van www.wynsa.co.za.  “Daar is soveel inligting oor wyn beskikbaar, maar nêrens kry ʼn mens ʼn webwerf wat hom daarop toespits om dié inligting oor die wynbedryf in Afrikaans aan te bied nie. Ons hoop om daardie leemte te vul,” het hy gesê

Nie dat die inligting op hierdie webwerf net van algemene aard is nie.  Marius Labuschagne, mede-eienaar en projekbestuurder van www.wynsa.co.za, sê die webwerf verskaf ook inligting oor spesifieke aspekte van die wynbedryf.  “Ons probeer ook om diepte-inligting oor die wynbedryf aan ons besoekers te gee – daar is byvoorbeeld baie inligting oor die kenmerke van die verskillende kultivars, ʼn afdeling oor wyn- en kosmaats, inligting oor wynroetes en baie vars wynnuus,” sê hy.  Keet het gesê dié webwerf wil op gemaklike wyse die soms ingewikkelde bedryf aan besoekers bekendstel.  “Daar is soveel verskillende fasette wat gedek kan word en soveel lekker stories om te vertel, dat dit vir ons een lang avontuur is om hierdie inligting bymekaar te sit. En die wynbedryf is ʼn bedryf oor en van mense – en mense het altyd interessante stories om te vertel.  Ons probeer ook uniek wees en om inligting op ʼn ander manier oor te dra. Ons het byvoorbeeld ʼn Afrikaans/Engelse wynwoordeboek begin saamstel en het al meer as 700 wyn-woorde daarin versamel. En dit groei daagliks,” het hy gesê.

Die webwerf spog ook met ʼn omvangryke fotogalery van wynmense, -plekke en -gebeure, wynroetes en wat om daar te doen (buiten die wynproe!), inligting oor die vernaamste wynkompetisies in Suid-Afrika, omvangryke inligting oor die brandewynbedryf en nuus oor die jongste wyne op die rak.  “Ons inligting is uit die boonste rakke en besoekers aan die webwerf kan inligting oor feitlik enige aspek van die Suid-Afrikaanse wynbedryf daar kry. En as dit nie daar is nie, vra vir ons en ons sal dit kry,” het Labuschagne gesê.

Vir meer inligting omtrent Suid-Afrika se eerste volwaardige Afrikaanse wynwebwerf, besoek gerus www.wynsa.co.za of stuur ʼn e-pos na info@wynsa.co.za.

POS BESKIKBAAR: VOORTREKKERMONUMENT EN NATUURRESERVAAT

Die VTM en Natuurreservaat is ʼn Artikel 21-maatskappy sonder winsmotief, wat op ʼn bo-en-behalwe grondslag ook vir die bestuur van verskeie ander soortgelyke organisasies en erfenisgebiede aanspreeklik is.  Bekend as ʼn sentrum van uitnemendheid, beide as erfenisinstansie en toerisme-bestemming,  het dit tans ʼn vakature vir die aanstelling van ʼn Senior Bestuurder Ondersteuningsdienste.  Die suksesvolle kandidaat sal beskik oor ʼn  toepaslike tersiêre kwalifikasie en minstens vyf jaar suksesvolle ervaring op senior bestuursvlak.  Hy/sy sal beskik oor die bewese potensiaal om later, saam met ander moontlike aansoekers, oorweeg te word as ʼn kandidaat vir die pos van Hoof Uitvoerende Beampte, aan wie hy/sy direk aanspreeklik sal wees, wanneer dit mettertyd vakant word.  Hy/sy moet uitnemende ondernemingsvaardighede hê en moet die HUB bystaan ten opsigte van alle ondersteuningsdienste en besigheidsbestuur, in besonder die oorhoofse beheer oor alle administratiewe-, menslike hulpbronne-, finansies-, logistieke-, projekte-, regs-  en bemarkingsfunksies, asook in staat wees om as maatskappysekretaris op te tree.  Hy/sy moet beskik oor die vermoë om onafhanklik en onder groot druk te werk en ʼn bewese rekord hê ten opsigte van suksesvolle hulpbronwerwing, asook uitnemende onderhandelings- en krisishanteringsvaardighede.  Diensaanvaarding is so gou doenlik en die sluitingsdatum vir aansoeke is 10 Oktober 2008.  Alle aansoeke moet vergesel word deur ʼn bondige CV met ʼn uiteensetting van hoekom die kandidaat voel dat hy/sy die geskikte persoon vir die pos is.  Aansoeke moet gerig word aan die HUB, Posbus 1514, Groenkloof, 0027 of hub@voortrekkermon.org.za of faks 0027-86-6159587.

Indien u nie binne vier weke na die sluitingsdatum vanaf die Voortrekkermonument verneem nie, moet u asseblief aanvaar dat u aansoek onsuksesvol was en dat daar nie verder met u in verband daarmee geskakel sal word nie.

OORPLASINGS VAN GELD

Lawrence Jooste van Global Treasury Solutions (Pty) Ltd bied ʼn uitstekende eenstop diens vir valuta transaksies teen uiters mededingende koerse aan.  Kontak hom vir ʼn kwotasie of met julle vrae in die verband en bespaar ʼn stewige bedrag op die transaksies.  Anders as kommersiële banke, hou Lawrence ook deurentyd tred met die vordering van transaksies, dus sal julle presies weet wat gebeur en wat die wagtyd verbonde aan die transaksie sal wees.  Sy bondige verslag volg onder en sy kontakbesonderhede is:

Lawrence Jooste
Global Treasury Solutions (Pty) Ltd
Tel: 0027-12-6580515 / 0027-83-6315350,
lawrence@globalts.co.za, www.globalts.co.za.

South Africa’s rand rallied early August to 7.20/$ after speculators took advantage of thin European summer vacation trading conditions.  After the rally profit taking stepped in, pushing the rand close to the 8.00/$.  The U.S. dollar rallied against most major currencies causing commodity prices to drop, which had a further negative impact on the local currency.  We are currently trading at 7.70/$ with reasonable quiet market conditions.  S.A. Reserve Bank Governor Tito Mboweni left interest rates unchanged at the MPC meeting earlier this month. Economists predict that interest rates will remain sideways until April next when we could see the first cut in local rates.  Inflation remains high, however GDP figures were above expectations.

ZAR/USD 7.7200/$
EUR/ZAR 11.40
GBP/ZAR 14.1700

CPIX 13.00%
PPI 18.9%  
GDP 4.9%

Dankie Lawrence!

POSTE IN DIE EIENDOMSBEDRYF

Henriette Basson skryf:

Goeiedag

Ons het poste vir ervare eiendomsbemarkers of bemarkers in ons kantore in die Franschhoek-Paarlvallei.  CV’s of aansoeke van sulke kandidate is baie welkom – ek hoor graag van mense wat wil terugkeer uit die buiteland.  Kontak my gerus!

Groete

Henriette Basson, CRS(SA), CEA, MIRSA
Tel: 0027-21-8725236 / 0027-83-7773354,
HenrietteB@Everitt.co.za
, www.Everitt-Paarl.co.za.

NOG POSTE BESKIKBAAR

Pieter Oosthuizen het die volgende poste beskikbaar:

  • Junior “Millwright” in Vereeniging op ʼn sampioenplaas.  Persoon moet instandhoudingswerk doen.  Die salaris is R15 000 tot R18 000 per maand.
  • 3 positions available for High Tension Electricians in the Northern Province. These are permanent positions, and candidates will be provided with accommodation; of which they will only pay 50 % of the cost.  The candidates will work on 6 000 to 11 000 kvA wires.  The salary varies between R16 000 to R17 000 per month.
  • Geoloë, Myningenieurs, opleidingsbeamptes en meer benodig.

Kontak Pieter by 0027-11-6602751 / 0027-82-8558164,
faks 0027-86-6345884, pieter@enable.co.za.

POSTE – VERAL IN DIE KONSTRUKSIEBEDRYF

Fanie Coetzee wat een van die grootste konstruksiemaatskappye in Suider-Afrika verteenwoordig, is steeds op soek na senior mense in die konstruksie- en ingenieursbedrywe.  Hy sê verder:  “Enigiemand wat werk soek, kan my kontak.  Ek ken ʼn paar mense in die werwingsomgewing en kan altyd probeer om ander mense te help om werk te kry.  Dit is tog waaroor alles gaan.  Dus, indien daar ander mense buite die konstruksie-omgewing is wat ook werk soek, kan hulle my kontak.  Ek sal hulle CV's aan ander werwingsmaatskappye gee en probeer help.”  Fanie se e-posadres is fanie@oneworldhc.com.

VERHUISINGSDIENSTE

Agente wat julle om kwotasies vir die verhuisingsproses kan nader, is:

Alle korrespondensie moet in Engels geskied, asseblief.

OORDENKING

Hierdie maand se oordenking kom met dank van ds. Naas Ferreira.  Besoek gerus sy blog by http://ouderling.blogspot.com.

Die voorbeeld van andersheid

Bybelgedeelte: 2 Timoteus 3:1 - 4:5

Teen die somber agtergrond van die swaar tye van die "laaste dae" (2 Timoteus 3:1) moet die lewe van God se kinders (en verseker hulle leiers / toerusters) 'n totale "andersheid" vertoon.  Is daar regtig so 'n radikale "andersheid" sigbaar in Christene se lewens vandag?  Word dit veral sigbaar in die lewe van Christen-leiers?  Juis as gevolg van hierdie anders-wees sal Christene verseker die spot en selfs die vervolging van die wêreld verduur.  Dit is presies wat reeds in sommige wêreldlande met Christene gebeur.  Die eerste rimpeling kan ons ook reeds in ons eie midde begin voel.  Waar kom hierdie "andersheid" van die Christen vandaan?  Dit is gegrond op 'n lewensbeskouing wat van kleintyd reeds deur Christenouers in hulle kinders se lewens vasgelê word (vergelyk Deuteronomium 6).  ʼn Lewensbeskouing wat gegrond is op die Bybel as die geopenbaarde Woord van die Almagtige God.  Hulle wat die Bybel as God se Woord aanvaar, word daardeur toegerus om hulle hele lewenswyse daarvolgens in te rig.

In hierdie laaste dae waarin wêreldse mense hulle eie begeertes soek en passievol najaag, moet God se kinders opnuut weer die Woord van God as lewensanker en lewenskompas gebruik.  Die negatiewe reaksie uit die wêreld, wat selfs vervolging sal insluit, moet ons nie van koers dwing nie.  Die leiers wat hierin moet voorloop, moet ʼn duidelike pad (en voorbeeld) wys.

Lentegroete uit Pretoria!

Alles wat mooi is!

Alana & kollegas
AfriForum

www.komhuistoe.co.za - alana@afriforum.co.za

Hierdie is die gratis nuusbrief van die Kom Huistoe-Veldtog van AfriForum vir alle Suid-Afrikaners wat na Suid-Afrika wil terugkeer, reeds terug is of besig is om terug te keer.  Om op die nuusbrief in of uit te teken, kommentaar te lewer of 'n bydrae te stuur, kontak ons by alana@afriforum.co.za.  Merk die e-pos “KOM HUISTOE INTEKEN”, “KOM HUISTOE UITTEKEN” of met die onderwerp van julle keuse.  Die nuusbrief verskyn maandeliks in beide Afrikaans en Engels en nuwe intekenaars is altyd welkom.  Onthou ook dat ons die medewerkers en adverteerders wel deeglik keur, maar geen waarborge vir hulle dienste kan voorsien nie en nie vir hulle aksies verantwoordelik gehou kan word nie.  Lewer asseblief ook kommentaar op hulle dienslewering.