|
Probleemoplossing in Suid-Afrika
Baie van diegene wat die land verlaat het of beplan
om die land te verlaat, doen dit omdat hulle sekere omstandighede
in Suid-Afrika as ongunstig beskou. Misdaad, ekonomiese oorwegings,
regstellende aksie en globalisering is onder meer van die ongunstige
omstandighede wat tot emigrasie lei. Diegene wat die land verlaat
het of beplan om dit te doen, sal natuurlik nie almal besluit om
in Suid-Afrika te bly indien die omstandighede nie na hulle mening
gunstiger raak nie. Ook diegene wat in die land bly, maar “na
binne emigreer” sal nie betrokke raak solank hulle pessimisties
is weens ongunstige omstandighede nie.
Met die Kom Huistoe-Veldtog word nie probeer om
die probleme wat in Suid-Afrika bestaan, te ontken nie. Die fokus
rus eerder daarop om emigrante en voornemende emigrante daarop te
wys dat hierdie probleme wel opgelos kan word en dat hulle elkeen
'n positiewe bydrae kan lewer om hierdie probleme te help oplos.
Van die belangrikste redes vir emigrasie, asook enkele voorgestelde
oplossings daarvoor, word :
Misdaad
Volgens AfriForum se navorsing is misdaad die tweede
grootste rede waarom Suid-Afrikaners die land verlaat. Talle mense
wat emigreer, het self slagoffers van misdaad geword of weet van
mense naby aan hulle wat slagoffers geword het. Die opeenhoping
van negatiewe nuus oor misdaad is ’n versterkende faktor.
Enkele oplossings: Die bekamping
van misdaad moet die regering se eerste prioriteit wees. 'n Omvattende
misdaadbekampingsplan wat werkskeppingsinisiatiewe, die verbetering
van die regstelsel, wetgewing en die polisiediens insluit, is noodsaaklik.
Terwyl die misdaadprobleem voortduur en planne daarteen in posisie
gestel word, word as tussentydse maatreël voorgestel dat belastingtoegewings
gebied word vir uitgawes wat gewone burgers aangaan om hulleself
te beskerm. Alarmstelsels, diefwering en ander sekerheidsmaatreëls
is duur en belastingtoegewings sal dit meer moontlik maak vir mense
om hulleself te beveilig in Suid-Afrika.
Mense kan teen misdaad optree deur onder meer by
AfriForum se Stop die Moorde Veldtog betrokke te raak. AfriForum
het reeds 'n webwerf (www.stopdiemoorde.co.za)
tot stand gebring waar lede van die publiek 'n petisievorm teen
geweldsmisdaad kan aflaai en onderteken, asook insette kan lewer
rakende moontlike oplossings vir die misdaadprobleem. Hierdie voorstelle
en petisievorms sal aan president Mbeki oorhandig word om die regering
tot dringende optrede op te roep. 'n Fasiliteit is ook reeds geskep
waardeur die publiek R10-00 kan skenk ter ondersteuning van die
veldtog deur die woord Forum te SMS na
38655.
Opdrag is ook as deel van dié veldtog aan
'n span navorsers gegee om 'n verslag saam te stel met statistiek
van geweldsmisdaad. Hierdie verslag sal binnelands, sowel as in
die buiteland versprei word om steun vir die stryd teen geweldsmisdaad
en moorde te werf. Die verslag sal ook op die veldtog se webwerf
gepubliseer word. Die navorsers is verder gevra om die uitvoering
van die staat se nuwe misdaadplan te monitor en wetenskaplik te
bepaal of dit daarin slaag om geweldsmisdaad te laat afneem. 'n
Verslag in hierdie verband sal in die eerste helfte van 2007 bekendgestel
word. Die staat se bekendstelling van 'n plan teen geweldsmisdaad
moet met tasbare resultate opgevolg word. Indien nie, sal dit die
plan reduseer tot maar net nog 'n oefening in openbare betrekkinge.
Dalende standaarde
Sowat 20% van emigrante voer aan dat dalende standaarde
van openbare dienslewering die rede vir hulle besluit om te emigreer
is. Standaarde daal volgens hulle op 'n wye reeks terreine wat onderwys,
mediese sorg, administrasie en infrastruktuur insluit. In 'n land
soos Suid-Afrika, met beperkte finansiële hulpbronne, is dit
bykans onmoontlik om die beste standaarde volhoubaar te handhaaf.
Die druk wat beperkte hulpbronne op standaarde plaas, word vererger
deur die wyse waarop regstellende aksie soms toegepas word.
Enkele oplossings: Ook wat standaarde
betref, het die regering 'n deurslaggewende rol om te speel om te
verseker dat hulle binne die beperkte hulpbronne tot hulle beskikking
die beste moontlike diens bied, veral wat onderwys en mediese sorg
betref. 'n Omvattende plan is ook in hierdie verband nodig.
Emigrante is meestal hoogs gekwalifiseerde mense.
Om hierdie groep in die land te hou, moet toegesien word dat hulle
toegang kry tot onderwysdienste en mediese sorg van hoogstaande
gehalte. Daar kan egter nie van die regering verwag word om aan
hierdie groep hoogs gekwalifiseerdes voorkeurbehandeling te gee
ten koste van die armes nie. Wat wel billik sal wees, is om dit
vir mense moontlik te maak om self hoë gehalte dienste vir
hulleself te bekom. Dit is tans baie moeilik vir mense om self dienste
te befonds, aangesien hulle aan die een kant belasting betaal om
die onderwysstelsel en staatshospitale in stand te hou, terwyl hulle
aan die ander kant groot bedrae geld moet spandeer vir mediese fondse,
private skole ensovoorts. Dit kom neer op dubbele belasting. Die
oplossing vir hierdie probleem is dat burgers belastingtoegewings
moet ontvang vir dienste wat hulle self voorsien. Indien dit nie
gedoen word nie, sal kundiges voortgaan om die land te verlaat,
tot nadeel van die land en die groot getal armes wat hier woon.
Ekonomiese redes
Bykans die helfte van die mense wat emigreer voer
ekonomiese redes vir hulle besluit aan. Dit beteken nie dat hulle
moet emigreer om te oorleef nie, maar toestande oorsee word as baie
beter beskou. Die dalende waarde van die rand, te hoë belasting,
'n tekort aan werksgeleenthede in Suid-Afrika en stygende lewenskoste
word as redes genoem. Verder word ook verwys na salarisse wat oorsee
veel hoër as in Suid-Afrika is. Veral mense in mediese beroepe
word gepla deur verpligte gemeenskapsdiens, swak betaling, onaangename
werksomstandighede en swak standaarde in staatshospitale.
Enkele oplossings: Die indruk
dat 'n hoër lewenstandaard in die buiteland gehandhaaf kan
word, is meestal 'n wanpersepsie. Salarisse mag weens die wisselkoers
wel hoër wees, maar die lewenskoste in die buiteland neutraliseer
hierdie voordeel. Hierdie wanpersepsie moet uitgewys word.
Dikwels emigreer mense omdat daar nie plaaslik
werk beskikbaar is nie. ’n Goeie werk is noodsaaklik om mense
in Suid-Afrika te hou of om die wat reeds geëmigreer het, terug
te laat kom. Daar word nou saamgewerk met Solidariteit se eie personeelagentskappe
en AfriForum het ook kontak met ander makelaars en werkgewers sodat
werk vir voornemende terugkerendes gesoek kan word. Dit bly egter
noodsaaklik dat nuwe werksgeleenthede geskep moet word. Die regering
moet ‘n belangrike rol speel in die verband, nie noodwendig
om self werk te skep nie, maar om toe te sien dat gunstige omstandighede
vir werkskepping daargestel word.
Regstellende Aksie
Wetlike bepalings wat voorkeur by aanstellings
aan swartmense bo witmense gee, veroorsaak dat wit kundiges, en
selfs ook bruines en Indiërs, toenemend sukkel om werk of bevordering
in die staatsdiens en die ekonomie te kry. Afgesien van die feitelike
benadeling wat deur talle witmense as vervreemding ervaar word,
is daar ook die persepsie aanwesig dat dit bykans onmoontlik is
om werk te kry as nie-swarte en dat daar net werksgeleenthede in
die buiteland is.
Enkele oplossings: Solidariteit
is reeds geruime tyd besig met ’n veldtog teen die onbillike
wyse waarop regstellende aksie soms toegepas word en is ook in gesprek
met die regering oor die daarstelling van 'n gelykheidsakkoord -
sien www.diekode.co.za.
Die gedagte met die gelykheidsakkoord is dat 'n wen-wen ooreenkoms
bereik moet word, wat aan die een kant help om die ongelykhede en
armoede wat in Suid-Afrika bestaan uit te wis, terwyl daar aan die
ander kant sorg gedra word dat daar nie nuwe vorms van diskriminasie
en ongelykhede geskep word nie. So 'n gelykheidsakkoord kan ontsettend
voordelig wees om voornemende emigrante van hulle planne te laat
afsien en om kundigheid te behou. Die voorgestelde gelykheidsakkoord
bevat verskeie voorstelle, soos onder meer dat 'n afsnydatum vir
regstellende aksie vasgestel moet word, dat jongmense van die beleid
vrygestel moet word, dat maatskappye planne moet beraam om mense
by te staan wat benadeel word, ensovoorts.
Vrees vir ’n Zimbabwe-scenario van
algehele ineenstorting
Suid-Afrika se stilswye oor Robert Mugabe se optrede
veroorsaak dat sommige mense onder die indruk is dat Zimbabwe Suid-Afrika
se voorland is. Daar word geredeneer dat Suid-Afrika besig is om
in die rigting van Zimbabwe te ontwikkel en dat dit beter is om
nou te emigreer, terwyl dit nog relatief maklik is. Die gebeure
in Zimbabwe en president Mbeki se weiering om hom duidelik van Mugabe
te distansieer, het tot gevolg dat die langtermyn beskouing oor
Suid-Afrika se toekoms onder veral sommige wittes pessimisties is
en dat daar gevoel word dat wittes nie as integrale deel van Afrika
beskou word nie.
Enkele oplossings: Dit is tyd
dat die regering duidelik standpunt inneem teen die miskenning van
menseregte in Zimbabwe. Organisasies soos die ANC-Jeugliga se steun
aan Mugabe moet onomwonde deur die regering gerepudieer word.
Globalisering en die einde van isolasie
Benewens al die genoemde stootfaktore, moet die
belangrikheid van globalisering as dryfveer vir emigrasie nie onderskat
word nie. Sedert Suid-Afrika se internasionale aanvaarding na 1994,
het nuwe geleenthede vir die land en sy mense oopgegaan wat voor
die tyd nie bestaan het nie. Toerisme het toegeneem. Suid-Afrikaners
verken nou maklik die hele wêreld en neem kennis van wat in
ander dele van die wêreld aangaan. Om werk oorsee te kry,
het nou relatief maklik geword en die jongmense wat oorsee werk,
het die pad oopgemaak vir derduisende wat hulle volg. Sekere bly
agter of ontwikkel ’n nuwe identiteit van swerf. Groter kontak
met die res van die wêreld bring ook 'n groter uitruiling
van mense mee.
Enkele oplossings: Globalisering
is 'n werklikheid en kan nie gestop word nie. Die enigste wyse waarop
die uitwerking van globalisering in terme van kundiges wat die land
verlaat, beperk kan word, is indien gunstiger omstandighede in die
land bestaan wat Suid-Afrika die voorkeurtuiste van ons eie kundiges
sal maak. Gunstiger omstandighede kan bereik word indien die regering
ernstig aandag skenk aan al die kwellinge wat hier genoem word.
AfriForum sit daarom talle veldtogte voort om die brandpunte onder
die regering se aandag te bring en te hou, asook om te help om wen-wen
oplossings daarvoor te vind. Besoek gerus AfriForum se webwerf deur
die direkte skakel op hierdie webwerf of by www.afriforum.co.za.
|