|
Wanpersepsies oor die lewe
in die buiteland
& algemene inligting oor emigrasie
Niemand kan ontken dat daar wel ernstige probleme
in Suid-Afrika is wat opgelos moet word nie. Ongelukkig kyk mense
soms net in hierdie probleme vas, sonder om kennis te neem van die
negatiewe faktore wat in ander lande bestaan. Die lewe in die buiteland
is nie altyd maanskyn en rose nie. Mense wat die land verlaat, kom
dit ongelukkig baie keer eers agter wanneer hulle reeds die groot
emosionele en finansiële prys betaal het om te emigreer. Diegene
wat oorweeg om die land te verlaat, moet dus deeglik kennis neem
van die situasie in die buiteland voordat hulle vertrek, sodat hulle
'n ingeligte besluit kan neem.
Talle emigrante emigreer sonder voldoende oorweging
van die voor- en nadele daarvan. Daar is selfs emigrante wat nog
nooit in hulle voorgenome bestemming was nie, nie eers as toeriste
nie! Hulle raak dikwels gou ontnugter, maar dit is moeilik om hulle
besluit om te keer.
Die faktore wat hieronder genoem word, moet beslis
in ag geneem word voor mense oorweeg om te emigreer. Natuurlik verskil
die bestemmings van emigrante uit Suid-Afrika aansienlik van mekaar
en nie elke faktor wat hieronder genoem word, geld in dieselfde
mate in elke land nie.
Emosionele gevoel van verlies en verlange
Emigrasie skeur families uitmekaar en is 'n verbreking
van bande met die mense en die land wat jy goed geken het en wat
jou na aan die hart lê. Vakansies kan nie vergoed vir die
permanente afwesigheid en emosionele ondersteuningsnet van geliefdes,
vriende en familie nie.
Verder is daar baie dinge wat ’n mens in
die nuwe tuiste (wat dikwels nooit werklik ’n tuiste word
nie) mis. Die mens is ’n groepswese en die geselskap van mense
wat soos jy is, jou taal praat en jou kultuur deel, is belangriker
as wat dikwels besef word. Die gevoel van verlies tree gewoonlik
eers na ’n rukkie in. Aan die begin is die nuwe tuiste opwindend
en eksoties, maar sodra ’n mens gewoond daaraan begin raak,
kom die verlange na die vorige tuiste.
Indien 'n mens wel besluit om te emigreer, help
dit om te weet dat die aanpassingsproses 'n tipiese U-kurwe volg:
- Die eerste 2 maande is 'n fase van “wittebrood”,
waarin alles nuut, interessant en opwindend is;
- Die volgende 8 maande bestaan uit tekens van wanaanpassing en
probleme;
- Vanaf maand 10 begin geleidelike aanpassing en inskakeling;
- Teen maand 25 is dit duidelik of die persoon/gesin die situasie
bemeester en met ander woorde suksesvol geëmigreer het, of
nie.
Koste van emigrasie
Die rand is relatief swak in vergelyking met die
geldeenhede van die meeste emigrasie-bestemmings. Die koste vir
’n gesin van vier om te emigreer kan maklik heelwat meer as
R250 000 beloop, wat slegs vlugkaartjies, permitte, vrag- en bergingskoste
vir huishoudelike goedere insluit.
Hindernisse vir emigrasie
Emigrasie en immigrasie word deesdae deur feitlik
alle lande se burokrasie bemoeilik. Die regering van die land van
herkoms plaas beperkinge op geld en goedere wat saamgeneem mag word.
Die regering van die bestemmingsland vra gewoonlik baie geld vir
werk- en verblyfpermitte en stel hoë vereistes vir immigrante
om die land wettig te kan binnekom. Volgens die puntestelsel wat
onder meer deur Nieu-Seeland, Kanada en Australië toegepas
word, is dit net vir die room van die bevolking in terme van geld,
opleiding en ondervinding moontlik om te immigreer. Groot beleggings
word ook dikwels in die bestemmingsland vereis. Verskeie lande bied
aan nuwe inwoners slegs 'n beperkte tyd om 'n vaste werk te kry,
anders moet hulle die land op eie koste verlaat.
Weer, leefwyse, gewoontes
Baie emigrante wat Suid-Afrika verlaat vir sogenaamde
groener weivelde oorsee, besef nie watter ingrypende aanpassing
dit in terme van lewenstyl en omgewing beteken nie. Die weer in
die Noordelike Halfrond, met baie meer reën en koue, is iets
waaraan moeilik gewoond geraak word, veral komende uit ’n
land wat so bederf word met sonskyn soos Suid-Afrika. Die buitemuurse
lewenstyl waaraan ons so gewoond is, is ook iets wat grootliks ontbreek
in byvoorbeeld Europa. Die bekende gasvryheid, hartlikheid en opgeruimdheid
van die meeste Suid-Afrikaners en bekende kerkgenootskappe is skaars
in die buiteland.
Lewenskoste
Wat dikwels by al die beraminge oor die fantastiese
buitelandse salarisse (gemeet in randterme) buite rekening gelaat
word, is die veel hoër lewenskoste in die buiteland. Daar word
dikwels vergeet dat nie net die inkomste in dollar, pond of euro
is nie, maar ook die uitgawes. Veral in terme van verblyf en voedsel,
is Suid-Afrika heelwat goedkoper. Wat wel relatief duurder in Suid-Afrika
is, is elektriese en elektroniese goedere en bybehore. Vleis is
’n luukse in die meeste lande en gewoonlik van swakker gehalte.
Huispryse is ook iets waarby Suid-Afrika oor die algemeen beter
vaar as oorsese lande. Vir die prys wat ’n spoghuis in ’n
gegoede woonbuurt kos, kry ’n mens in Londen ’n eenvoudige
woonstel in ’n digbevolkte woonbuurt.
Standaarde
Die standaarde in die buiteland is nie altyd so
hoog as wat baie Suid-Afrikaners glo nie. Veral onderwysstandaarde
is nie noodwendig beter in die buiteland nie. Dissipline in skole
is oor die algemeen heelwat swakker en van Christelik begronde opvoeding
in staatskole kan daar geen sprake wees nie. In Engeland is daar
’n redelike klasverdeling tussen staat- en private skole –
hoë gehalte onderwys word met private skole geassosieer, wat
vir die normale mens dikwels onbekostigbaar is.
’n Ander saak om aan gewoond te raak, is
die oormaat aan burokrasie en kontrole waaraan 'n mens nie in Suid-Afrika
gewoond is nie. Mediese dienste is ook nie altyd van die beste of
geredelik beskikbaar in die buiteland nie.
Tweedeklas burgerskap
Diegene wat die land verlaat omdat hulle in Suid-Afrika
soos “tweedeklas burgers” voel en aanstoot neem omdat
hulle taal toenemend sy openbare status verloor, verwag verkeerdelik
dat hulle in die buiteland as eersteklas burgers aanvaar sal word.
Suid-Afrikaners bly gewoonlik buitestanders, behalwe as hulle bereid
is om hulle eie kultuur oorboord te gooi en die kultuur en leefwyse
van die nuwe tuiste aan te neem. Min is egter bereid om dit te doen
en leef trouens ’n bewustelik Suid-Afrikaanse lewenstyl. Dit
het uiteindelik uitsluiting tot gevolg en hulle voel soos tweedeklas
burgers in hulle nuwe land of raak vervreemd van hulle kinders en
kleinkinders wat meer geredelik assimileer.
Suid-Afrikaanse burgerskap
Dit is sowaar moontlik dat 'n mens jou burgerskap
onwetend kan verloor. In die geval van mense wat in Suid-Afrika
gebore is, gebeur dit gewoonlik wanneer dié mense om burgerskap
van 'n ander land aansoek doen, sonder om eers
om die behoud van hulle Suid-Afrikaanse burgerskap aansoek te doen.
Die burgerskap van mense wat buite Suid-Afrika gebore is en later
hier genaturaliseer het, word ook beïnvloed deur faktore soos
wanneer hulle Suid-Afrika verlaat het en die aantal jare wat hulle
buite Suid-Afrika woonagtig is.
In 2004 is verkeerdelik in die buiteland verkondig
dat 'n mens onder geen omstandigheid jou Suid-Afrikaanse burgerskap
kan verloor nie. Dit is nie die geval nie! Tans laat die Burgerskapwet
wel toe dat jy verblyfreg in Suid-Afrika kan behou, maar soos bo
verduidelik, kan jy dan tog onder sekere omstandighede die burgerskap
(wat die reg om 'n Suid-Afrikaanse paspoort te hou, insluit) verloor.
Dit is wel nie meer nodig om skriftelike toestemming
van die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake te hê
om met beide 'n Suid-Afrikaanse en ander paspoort te reis nie. Al
wat vereis word, is dat die Suid-Afrikaanse paspoort onder alle
omstandighede geldig gehou moet word en altyd gebruik
moet word om Suid-Afrika binne te kom en te verlaat.
'n Paar punte wat voornemende emigrante moet oorweeg
-
Seleksie. Die beste persoon vir die pos is
nie noodwendig die beste persoon vir die werk nie. Die ideale
immigrant is aanpasbaar, onbevooroordeeld, dink onafhanklik,
het 'n sin vir humor – ook wat homself aanbetref –
en is gewoonlik 'n ekstrovert. Fisiese faktore moet ook soms
in ag geneem word, byvoorbeeld: lang mense leef swaar in Japan
omdat motors en akkommodasie vir korter mense ontwerp word.
-
Dit is nodig om meer te weet omtrent die
bestemmingsland se bemarkings-, onderhandelings- en besluitnemingskultuur,
asook die bestuurstyl en arbeidswetgewing. In sommige lande
word van nuwelinge verwag om inisiatief te toon, in ander word
dit as onaanvaarbare arrogansie beskou. Selfs inter-kantoor
humor moet versigtig hanteer word.
-
Dit is nodig om 'n kennis van die land se
leefkultuur te hê.
-
Kyk na die eggenoot se aanpasbaarheid en
hoe die persoon sy/haar dae sal omkry indien net een van die
twee huweliksmaats werk kry of mag werk. Vind uit of die bestemmingsland
se immigrasiewetgewing toelaat dat beide lewensmaats werk.
-
Kyk na die kinders se aanpasbaarheid en
hulle ouderdomme. Hoe nader aan die einde van 'n skoolloopbaan,
hoe moeiliker om te verskuif of terug te keer. Jonger kinders
ondervind weer dikwels emosionele trauma wat byvoorbeeld tot
spraakgebrekke mag lei wanneer hulle skielik in 'n ander taal
moet skoolgaan.
-
Taalgrense. Al is 'n land se taalmedium
Engels, maak die aksent en eie idiome dit soms moeilik om 100%
te verstaan, wat as onvriendelikheid, onnoselheid of moedswilligheid
gesien kan word.
-
Ken die bestemming se unieke mediese gevare
(soos malaria/geelkoors/legioensiektesones/besoedeling/temperature)
en beplan vir mediese noodgevalle direk of kort na aankoms.
Onthou dat migrasie 'n stresvolle proses is wat ook langtermyn
medikasie vir depressie of bloeddruk by gesinslede tot gevolg
mag hê en dat reisversekering dit nie noodwendig sal dek
nie. Ook dat alle fondse nie binne die eerste jaar vir swangerskappe
of groot operasies sal betaal nie. Die immigrant het selde enige
mediese voordele omdat dit tot die beskikking van permanente
inwoners of burgers is. Onthou ook dat indien 'n mens dalk later
na Suid-Afrika sou terugkeer, jy addisionele heffings op jou
Suid-Afrikaanse mediese fondspremies sal moet betaal omdat jy
'n tyd lank nie lid van 'n Suid-Afrikaanse fonds was nie.
-
Kry voldoende kwotasies vir hervestigingskoste.
-
Kyk na die salarisskaal, belasting en lewenskoste
in die land van herkoms en vergelyk dit met die bestemmingsland.
Gebruik die Big Mac indeks as maatstaf.
-
Beroepsbeplanning: Watter beroepsmoontlikhede
is daar in die bestemmingsland en ook in Suid-Afrika indien
die migrasieproses nie sou slaag nie.
-
Kommunikasie met die tuisfront is essensieel.
Begroot vir oproepe, e-pos en vlugte na Suid-Afrika. As sieklike
of bejaarde geliefdes agtergelaat word, moet jy weet of dit
moontlik sal wees om op kort kennisgewing 'n vlug huiswaarts
te kry vir 'n siekbed/noodgeval, en wat dit sal kos.
-
Persoonlike voorkeure – is huisbediendes
vir jou noodsaaklik, word jou gunsteling stokperdjie of sportsoort
in die bestemmingsland beoefen en indien wel, teen watter koste?
Wat van weersomstandighede?
-
Sal jy nog voldoende aftreevoorsiening hê
indien jy emigreer?
|